Lefra produksies by AfriForum Teater
Kom geniet ses van Lefra Produksies se treffer opvoerings by die AfriForum Teater in Pretoria in Julie en Augustus.
SES TOP-LEFRA PRODUKSIES BY DIE AFRIFORUM TEATER!
AfriForum Teater, Greenlyn Village-Sentrum,
hoek van Thomas Edison en Dertiendestraat, Menlopark, Pretoria
Vlerksleep | Vrydag, 24 Julie om 19:00 | Sondag, 26 Julie om 15:00
Richard van der Westhuizen – 40 | Saterdag, 25 Julie om 15:00 ’n Skatkis uit ons Musiekverlede | Sondag, 2 Augustus om 15:00
Dinner for One | Saterdag, 29 Augustus om 15:00
Koos Doep | Sondag, 30 Augustus om 15:00
Het van Verlangekraal | Vrydag, 25 September om 19:00 | Saterdag, 26 September om 15:00 | Sondag, 27 November om 15:00
Bespreek by www.LTickets.co.za
Met hul bekende leuse “Lefra vermaak Suid-Afrika!” bly Lefra Produksies getrou aan hul missie om teater na die mense toe te neem. Oor die volgende drie maande bring Lefra ses uiteenlopende en hoë-gehalte produksies na die AfriForum Teater in Pretoria – ’n fees van drama, musiek, nostalgie en humor wat gehore van alle ouderdomme sal betower. Met van Suid-Afrika se geliefdste kunstenaars op die planke, beloof hierdie seisoen om iets vir elke smaak te bied en skop af met die komedie Vlerksleep op 24 en 26 Julie. Op Saterdag, 25 Julie wys Richard van der Westhuizen waarom hy na vier dekades steeds een van ons land se voorste kunstenaars bly in die produksie Richard van der Westhuizen 40.
Stephanie Baartman en Chanie Jonker vier ons land se ryk musiekgeskiedenis in ‘n Skatkis uit Ons Musiekverlede op Sondag, 2 Augustus en ons sit aan vir die ikoniese Dinner for One op 29 Augustus. Wynand Strydom bring hulde aan die legendariese Koos du Plessis in Koos Doep op 30 Augustus en sluit die seisoen af met Leon van Nierop se Het van Verlangekraal van 25 tot 27 September. Die prduksies word in samewerking met die AfriForum Teater aangebied en met die trotse ondersteuning van Ambassador Execudrive, Britz Couriers & Removals, Feeste.net, Hollywood Costumes, Lekker FM, LTickets, Lift Airlines, die Mannah Gastehuis en Konferensiesentrum, Mobilis Auto, RSG, Shereno Printers en Van Loveren-wyne aangebied. Besprekings vir al ses produksies kan aanlyn by www.afriforumteater.co.za gedoen word.
Volgens die verklarende woordeboek van die Afrikaanse taal beteken “vlerksleep” om by ‘n meisie aan te lê, soos wat die voëls – veral duiwe – hulle vlerke sleep om die wyfies se aandag te kry vir so ‘n ietsie lekker! In regisseur Frans Swart se produksie Vlerksleep deur Peter Quilter, ontmoet ons vir Anton (David James) en Louise (Elma Potgieter), beide in hul laat vyftigs. En onlangs geskei. Beide is nou in die proses om te begin kyk na nuwe metgeselle deur op ‘n aantal toe-oogafsprake te gaan. Vlerksleep volg die twee se eskapades deur ‘n reeks van onverwagte, eksentrieke en wisselvallige romantiese probeerslae waar absoluut niks volgens planne verloop nie! Kom sleep vlerk saam met David James, Elma Potgieter, Richard van der Westhuizen en Steffie le Roux op Vrydag, 24 Julie om sewe-uur en Sondag, 26 Julie om drie-uur.
In 2026 vier ons die merkwaardige loopbaan van Richard van der Westhuizen – ’n kunstenaar wie diep spore in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf trap. Vir meer as vier dekades lank voer Richard gehore mee, vanaf sy verhoogdebuut in Die van Aardes van Grootoor in 1979, tot sy onvergeetlike vertolking van die temalied vir Ballade vir ’n Enkeling, met bekroonde rolle in teaterproduksies, gewilde televisiereekse, rolprente, en ’n musiekloopbaan wat goudstatus behaal het tussenin en daarna. Richard is die toonbeeld van volgehoue toewyding en kunstenaarskap. Hy is nie net ’n verteller nie – hy is ’n bewaker van die Afrikaanse taal, ’n draer van kultuur, en ’n stem vir ’n volk se verlange en vreugde. In die produksie Richard van der Westhuizen – 40 op Saterdag, 25 Julie om drie-uur eer ons nie net ’n loopbaan nie, maar ’n lewe van kreatiewe oorgawe.
’n Skatkis uit Ons Musiekverlede is ’n ontroerende en nostalgiese musiekreis waarin Stephanie Baartman haar stem en storie verbind met die klanke wat generasies Suid-Afrikaners gevorm het. Op Sondag, 2 Augustus word die produksie om drie-uur in die AfriiForum Teater aangebied. Met Chanie Jonker as pianis en musiekregisseur word hierdie produksie ’n intieme maar kragtige huldeblyk aan die liedjies en veral die vroue wat ons musieklandskap help vorm het. Deur ikoniese liedjies en humor word ’n musikale “skatkis” oopgemaak, van Miriam Makeba se wêreldklanke tot Afrikaanse gunstelinge van Laurika Rauch en Sonja Herholdt. Die produksie vier die ryk, veelstemmige erfenis van Suid-Afrikaanse musiek – ’n skatkis nie van goud nie, maar van stories, emosie en onvergeetlike melodieë.
Dinner for One (ook bekend as The 90th Birthday) het kultusstatus verwerf nadat dit in 1963 in Hamburg verfilm is, en is vandag ’n geliefde Oujaarstradisie op televisie, en is op Saterdag, 29 Augustus 2026 om drie-uur op die planke by die AfriForum Teater. Die skets speel af in ’n ou Britse herehuis waar Miss Sophie, gespeel deur Elma Potgieter, haar 90ste verjaardag vier. Haar gaste is egter lankal oorlede, maar haar lojale butler, James – gespeel deur David James – moet steeds die viergangmaaltyd bedien – en ook elke gas se drankie namens hulle drink. Met elke rondte raak James al hoe vroliker en die spanning bou wanneer hy telkens oor die tiervelmat moet stap. As toegif volg Sopper vir Een, ’n Suid-Afrikaanse parodie deur Frans Swart. Hier speel Elma die butler en David vir Miss Sophie – met ’n verrassende, plaaslike kinkel wat groot pret beloof!
“Trek my liedjies uitmekaar uit en skryf oor hulle,” het Koos du Plessis gesê, “maar los my uit… ek is ’n doodgewone ou.” Koos Doep, soos hy in die volksmond bekend staan, sou in 2025 sy 80ste verjaarsdag gevier het. En tog, ’n goeie 40 jaar ná sy dood as daar gepraat word van “Koos”, dan weet bykans enige persoon van wie daar gepraat word en daar is dadelik ’n klomp treffers wat by ’n mens opkom, waaronder Sprokie vir ’n stadskind, Kinders van die wind, Gebed en As almal ver is. Dit is die omvang van Koos du Plessis se bekendheid en sy invloed op Afrikaans en Afrikaanse musiek. Wynand Strydom, in samewerking met Lefra Produksies, bring hulde aan Koos du Plessis in die trefferproduksie Koos Doep op Sondag, 30 Augustus 2026 om drie-uur.
Het Heiberg. Die weggooikind wat Verlangekraal se naam sou verewig. Sy het dit gewaag om in opstand te kom teen ’n rigiede skoolsisteem wat geen rebelsheid of individualiteit sou duld nie. Net meneer Doep het tussen haar en die verderflike skoolhoof meneer Erlank gestaan. Hierdie geliefde en diep menslike verhaal wys vir die eerste keer Het Heiberg se kant van die saak. Wie in haar lewe saak gemaak het en wat in haar gedagtes omgegaan het. Dit vertel bowenal hoe sy oorleef het. Leon van Nierop (na die verhaal van Johann Bekker) se Het van Verlangekraal gaan verhoog toe, met die regie deur Frans Swart. Het van Verlangekraal is vanaf 25 tot 27 September by die afriForum Teater op die planke.
Besprekings vir al ses produksies kan aanlyn by www.afriforumteater.co.za 011 815 3000 of www.LTickets.co.za gedoen word.
UITGEREIK DEUR: LEFRA PRODUKSIES
MEDIANAVRAE/KOMPETISIES/ONDERHOUDE/FOTO’S
CHARL SENEKAL
TEL: 011 815 3000
SEL: 061 616 6138
E-POS: admin@lefra.com
Charl Senekal
admin@lefra.com
011 815 3000
Lefra Produksies
http://www.lefra.com






