Het van Verlangekraal verkoop uit
Lefra Produksies bring Leon van Nierop se Het van Verlangekraal vir die eeste keer verhoog toe.
“Het van Verlangekraal” laat spat die bywoningsyfers!
Uitverkoop by die Fairtree Atterbury Teater
Lefra Produksies se splinternuwe produksie, Het van Verlangekraal, het onlangs totaal uitverkoop by die Fairtree Atterbury Teater en bywoningsyfers laat spat. Frans Swart, regisseur en vervaardiger sê hy was oorweldig met die goeie reaksie van die gehore. “Dit was werklik ’n goeie gevoel, want toe ons ons oë oopmaak, is Het van Verlangekraal uitverkoop. Teater trek maar noustrop op hierdie stadium, want as gevolg van verskeie redes woon teatergangers nie meer so baie teater by as tevore nie.” Hy sê voorts dat hy glo dat die produk reg is en tot mense op verskillende vlakke spreek. “Het kan enige kind in enige skool se storie wees. Daar is baie Hette wat deur dieselfde moeilike omstandighede as wat Het gaan. Ek is werklik verbaas oor hoeveel jong mense met my kom praat en spontaan vertel hoe Het hulle aangeraak het en dat hulle hul ook in dieselfde situasie bevind of bevind het. Die heerlike skeut nostalgie word ook goed deur oud en jonk geniet. Ons is werklik baie dankbaar dat Het van Verlangekraal so goed doen.”
Swart sê ook dat Het van Verlangekraal nou landwyd gaan toer. Die produksie speel vervolgens as volg:
• Etienne Rousseau Teater – 7 Junie 2026
• Toyota Innibos Nasionale Kunstefees – 1 tot 3 Julie 2026
• Kalfiefees – 8 Augustus 2026
• AfriForum Teater – 25 tot 27 September 2026
•
Alle besprekings kan by www.LTickets.co.za of 011 815 3000 gedoen word. Het van Verlangekraal word aangebied met die trotse ondersteuning van Ambassador Execudrive, Britz Couriers & Removals, Feeste.net, Hollywood Costumes, Lift Airlines, Mobilis Auto, RSG, Shereno Printers en Van Loveren-wyne.
Het Heiberg. Die weggooikind wat Verlangekraal se naam sou verewig. Sy het dit gewaag om in opstand te kom teen ’n rigiede skoolsisteem wat geen rebelsheid of individualiteit sou duld nie. Net meneer Doep het tussen haar en die verderflike skoolhoof meneer Erlank gestaan. Hierdie geliefde en diep menslike verhaal wys vir die eerste keer Het Heiberg se kant van die saak. Wie in haar lewe saak gemaak het en wat in haar gedagtes omgegaan het. Dit vertel bowenal hoe sy oorleef het.
Leon van Nierop (na die verhaal van Johann Bekker) se Het van Verlangekraal gaan vir die eerste keer op die verhoog opgevoer word. Die regie word waargeneem deur Frans Swart. Leon het self die teks vir die verhoog geskryf. Die titelrol word vertolk deur Nikita Meyer wat tans in die Lefra-klug, My Boetie se Sussie se Ou te sien is. Ander spelers is Ana van Achterbergh (Mart), Etienne du Plessis (kwaai skoolhoof, mnr Erlank), Henco J (Meneer Doep), Nico Loubser (Floors – Het se dronk pa), Ulrich Slabbert (Doorsie) en Zanje Bodenstein (Mathilda).
Het van Verlangekraal is oorspronklik in 1960 gepubliseer en is deur Johann Bekker geskryf en handel oor ‘n bywoner se dogter, wat aanvanklik bitter selfbejammerende gedragsprobleme toon, maar deur die liefdevolle bearbeiding van haar klasonderwyser Doep vir haar medemens begin omgee. Van Nierop se roman, Het van Verlangekraal, het ook so pas by Tafelberg Uitgewers verskyn. Hy loop reeds ’n lang pad met Het. Hy het die verwerking vir die televisiereeks in 1985 gedoen, die radioverwerking vir RSG in 2022, die roman in 2024 en nou die verhoogteks in 2025. “Ek het nog altyd gevoel dat Het se tragiese, maar ook inspirerende geskiedenis nog nooit na behore ontgin is nie, en dat dit tyd is dat Het ook ‘n stem kry en in sommige hoofstukke uit haar eie perspektief oor haar probleme praat”, sê hy. “Op radio kon ek dit nie doen nie, want dan het dit een lang pedantiese, stroperige vertelling geword. Op televisie het die klem op die verloop van die verhaal geval en die haglike toestande waaronder Het, pragtig gespeel deur die bekroonde Sally Campher, moes oorleef. Maar ‘n roman en verhoogverwerking maak dit soveel persoonliker, want die skrywer – in diê geval verwerker – betrek die gehoor direk by wat gebeur het en maak die verhaal ook hulle s’n.”
Van Nierop sê ook dat hy baie opgewonde is dat Het van Verlangekraal verhoog toe gaan. “Toe Frans Swart van Lefra Produksies my vra of ons Het verhoog toe kan neem, het ek ingestem, want ek het dadelik besef dat die onmiddellikheid en kompleksiteit van die verhoog, ’n totaal nuwe dimensie aan Het gaan verleen. ’n Verhoogteks het natuurlik heelwat ander uitdagings as tekste vir televisie, radio of romans. Ek moes die karakters verminder en net op die kernkarakters konsentreer, en moes ook moeilike buitemuurse tonele visualiseer om op een verhoog te kon afspeel. Wat ’n lekker uitdaging! Het se storie is egter so sterk en veral nou weer opnuut relevant, veral as ’n mens kyk na bendeverwante bedrywighede en probleemkinders se dilemmas wat in skole toeneem, dat ek seker is mense gaan in hierdie produksie iets nuuts sien, en die storie uit ’n vars oogpunt benader,” sê hy. “Dit gaan hulle net soveel verras om dit opnuut te ervaar as wat dit my geïnspireer het toe ek dit vir die verhoog verwerk het.”
Frans Swart, regisseur van Het van Verlangekraal sê dat toe hy Leon van Nierop se roman gelees het, hy dadelik besef het dat Het verhoog toe moet gaan. “Leon het ’n ongelooflike lekker skryfstyl, want jy wil nooit sy boeke neersit nie. Natuurlik leef hy al jare met die storie van Het en het ’n puik verhoogteks geskryf wat nuwe interessante dimensies na die karakters en toneel bring.”
Nikita Meyer vertolk die rol van Het Heiberg en studeer tans BCom in Ondernemingsbestuur aan Akademia. Sy het ’n liefde vir buitelugaktiwiteite soos bergfietsry, draf en motorfietsry. Op hoërskool het sy egter haar voorliefde vir die dramawêreld ontdek, en aan die toneel deelgeneem. Nikita was deel van die ATKV-landsfinale produksie Tussen die Lang Grasse en is tans te sien in die rol van Vicky Smith in Lefra se lekkerlagklug My Boetie se Sussie se Ou. Sy geniet kwaliteittyd saam met haar familie en vind kreatiewe uitlaatkleppe in digkuns en kitaarspel.
Henco J, as Doep Du Plessis, werk sedert 2002 professioneel in die vermaaklikheidsbedryf as akteur, regisseur en storieverteller. Hy het Drama aan TUT studeer en ’n PhD in Drama- en Filmstudies aan UP verwerf. As wenner van die internasionale Jameson First Shot-kompetisie het hy The Mundane Goddess met Uma Thurman geskryf en geregisseer. Sy loopbaan strek oor film, televisie, teater en stemwerk, en hy benader elke rol as ’n eerlike ontdekkingsreis na menslikheid en waarheid.
Etienne du Plessis is ’n vryskutakteur en musikant wat die afgelope dekade op verhoë regoor Suid-Afrika opgetree het. Hy het Drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie studeer en kombineer sy passie vir toneelspel en musiek in uiteenlopende produksies. In 2018 het hy die rol van The Big Bopper in Buddy – The Buddy Holly Story vertolk. Hy was ook te sien as Speursersant Porterhouse in die klug My Vrou se Man se Vrou.
Nico Loubser is Het se pa, Floors Heiberg, en het ná ’n loopbaan van tien jaar in onderwys ’n gevestigde akteur geword met verskynings in verskeie SAUK- en kykNET-reekse, waaronder Meeulanders, Arende, Diepe Waters en die Silwerskerm-kortfilm Liewe Dudu. Hy het reeds in 1979 sy verhoogdebuut gemaak en het sedertdien in talle verhoogproduksies opgetree, insluitend feeste soos die Suidoosterfees. Nico is ook aktief in stemwerk, oorklanking en podsendings, en vertolk tans rolle in teater en televisie.
Ana van Achterbergh speel Mart du Plessis, en is ’n kunstenaar, opvoeder en aktrise met opleiding in Drama en Film aan TUT. Sy vertolk tans rolle in Het van Verlangekraal en Liewe Heksie. Benewens haar uitvoerende werk, doseer sy Visuele Kunste en Drama en inspireer jong kunstenaars om hul kreatiewe stemme te ontwikkel. Sy was ook betrokke by radio en speel in haar vrye tyd cajón-dromme. Vir haar is kuns ’n leefwyse van verbinding en betekenis.
Ulrich Slabbert vertolk Doorsie Duvenhage, en is ’n opkomende akteur en tweemalige wenner van die FAK Allegretto Toneelfees. Hy het in 2023 en 2024 by die Oppiwater Kunstefees opgetree met Tussen die Lang Grasse en Wat Wolke Weeg. Hy is as Beste Akteur by die FAK Toneelfees bekroon in 2024 en 2025, en het vanjaar ’n Naledi Teatertoekenning vir Beste Prestasie deur ’n Student gewen. Hy sien met groot opgewondenheid uit na sy professionele teaterloopbaan.
Zanje Bodenstein is ’n talentvolle jong aktrise en model en speel Mathila van Eck. Zanje het ervaring in teater, film en televisie. Sy het reeds hoofrolle vertolk en was ’n nasionale finalis in verskeie drama-kompetisies. Zanje het by feeste soos KKNK, Suidoosterfees en Woordfees opgetree. Met professionele opleiding in toneelspel en dans bring sy energie, emosionele diepte en ’n sterk verhoog- en kamera-teenwoordigheid na elke produksie.
Bespreek jou kaartjies vir al die speelvakke nou by www.LTickets.co.za, of skakel 011 815 3000. Groepe kwalifiseer oudergewoonte vir ’n lekker afslag. Gesels gerus met Monica Booysen by die bogemnoemde nommer of stuur ’n e-pos aan admin@lefra.com. Besoek www.verlangekraal.co.za vir meer inligting.
UITGEREIK DEUR: LEFRA PRODUKSIES
MEDIANAVRAE: CHARL SENEKAL
TEL: 011 815 3000
CELL: 061 616 6138
EPOS: admin@lefra.com
Charl Senekal
admin@lefra.com
011 815 3000
Lefra Produksies
http://www.lefra.com











