Grotman by NAMPO!
GROET DIE GROTMAN 2 speel vanjaar by NAMPO en en is deel van die Santam Landbou Vroueprogram op Woensdag, 13 Mei om 14:00 in die Rooi-Rose-tent.
GROET DIE GROTMAN 2 BRING SY WYSHEDE EN KWINKSLAE NA NAMPO TOE!
SANTAM LANDBOU VROUEPROGRAM
DEUR FRANS SWART
REGISSEUR EN VERVAARDIGER FRANS SWART
MET PHILLRU VAN ACHTERBERGH AS DIE GROTMAN
ROOI ROSE-TENT, LANGS DIE SHELL-GEBOU, NAMPO PARK (BOTHAVILLE)
WOENSDAG, 13 MEI 2026 @ 14:00
MEER INLIGTING BY WWW.GROTMAN2.CO.ZA
Dit is vyftien jaar later. Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud … of is hulle? Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, eposse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlynkonserte. Maar die verskille tussen mans en vrouens is egter steeds daar, want mans is nou maar een maal van Mars en vrouens van Venus. In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vrouens op komiese wyse uitgebeeld deur Grotman Phillru van Achterbergh. Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie. Groet die Grotman 2 speel vanjaar by NAMPO in Bothaville en is deel van die Santam Landbou Vroueprogram op Woensdag, 13 Mei om 14:00 in die Rooi-Rose-tent reg langs die Shell-gebou. Daar is ‘n ouerbegeleiding van 13 (PG13). Groet die Grotman 2 word met die trotse ondersteuning van NAMPO, Ambassador Execudrive, Britz Couriers & Removals, Feeste.net, Hollywood Costumes, LTickets, Lift Airlines, Mobilis Auto, RSG, Shereno Printers en Van Loveren-wyne aangebied.
Vrouens bly die gaarders – veral van nuttelose inligting – en mans steeds die jagters, van ’n bok tot die regte TV-program. “In Groet die Grotman 2 lag mans en vrouens saam met en vir mekaar, en dit is presies wat die produksie so gewild maak,” sê skrywer en regisseur Frans Swart. “Dis amper soos huweliksberading, net met baie meer humor! Wanneer Grotman sy klein wêreldjie moet rek om by Elize se groot wêreld aan te pas, en Elize haar oop wêreld ’n bietjie moet krimp om by Grotman se kleiner een uit te kom, skep dit baie komiese situasies.”
Die oorspronklike Groet die Grotman hou steeds die rekord as die Afrikaanse teaterproduksie met die meeste vertonings oor die langste tydperk – meer as 1,000 vertonings oor 10 jaar! Daarna het Lefra die Grotman vir ’n dekade lank in sy grot laat rus… tjoepstil. Maar stilbly was nooit ’n opsie nie – daar was té veel stories om te vertel en te veel verskille tussen mans en vrouens. Phillru van Achterbergh as die Grotman bring dit alles terug: van meesterbraaiers, slaaie en bouprojekte, tot handdoeke wat net vir vertoon is… en natuurlik ook die slaapkamer!
Phillru van Achterbergh het Drama en Film aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) studeer, waar hy in 2012 geskiedenis gemaak het as die eerste student wat al drie top TUT-toekennings gewen het, onder meer as Beste Drama Student.
Kort ná sy studies het hy sy professionele debuut gemaak in die kinderproduksie Liewe Heksie en sy eerste Lefra-klug, My Vrou se Man se Lyk se Tas, waarin hy die rol van Boris vertolk het. Hy het daarna in gewilde produksies soos My Boetie se Boetie se Baba en Daa’ Gaat die Bruid gespeel, en het ook as assistent-regisseur agter die verhoog gewerk aan My Man se Skelmpie se Skelmpie se Vrou. Hy was weer op die verhoog met My Vrou se Man se Vrou vanaf 2019 en is ook tans te sien in die opvolg daarvan, My Boetie se Sussie se Ou. Televisiekykers sal hom onthou as Clint Erasmus, die dwelmsmous in *Binnelanders*.
In 2016 is hy vir ’n Naledi-toekenning benoem vir sy rol as André Myburg in Porselein, en hy het sy veelsydigheid verder bewys as Benjamin Komoetie in die verhoogproduksie van Fiela se Kind.
Frans Swart, bekend as Suid-Afrika se klugkoning, het ’n splinternuwe teks geskryf wat heelwat nuwe aksies en situasies skep. “Die verskille tussen mans en vrouens sal altyd daar wees: vrouens is gaarders en mans jagters! Om saam te oorleef, moet mans soms hul jagterswêreld bietjie uitbrei om by die dames se wêreld in te pas, en dames moet aan hulle kant hul gaarderswêreld effens nouer maak om by die Grotmanne se wêreld uit te kom. Hierdie balans – en botsing – sorg vir ure se skaterlag!”
Vrouens … julle gaan julle mans herken in Groet die Grotman 2 en jy kan gerus maar jou man in die ribbes pomp. Meneer, jy gaan beslis jou vrou in Groet die Grotman 2 herken … so wys maar gerus die wysvinger vir Mevrou … net nie die middelvinger nie! Saam gaan mans en vrouens weer heerlik lag en sommer gratis terapie ontvang vir die huwelik. Groet die Grotman 2 is speel vanjaar by NAMPO en is deel van die Santam Landbou Vroueprogram op Woensdag, 13 Mei om 14:00 in die Rooi-Rose-tebt reg langs die Shell-gebou.
MEDIA NAVRAE | Charl Senekal at 061 616 6138 / 011 815 3000 of admin@lefra.com
Charl Senekal
admin@lefra.com
011 815 3000
Lefra Produksies
http://www.lefra.com


