Eerbewys aan Lydia Winchester

Sy het hulle 'n stem gegee.

Lefra Produksies het Saterdag, 27 Junie ‘n spesiale toekenning aan Lydia Winchester gemaak vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse Musiek.

Frans Swart se wonderlike huldeblykproduksie, Gé Sing: Hoor My Lied! was vir oulaas in Pretoria op Saterdag, 27 Junie 2026 op die ikoniese trappe van die Voortrekkermonument aangebied. Tydens die spesiale huldeblykkonsert het Lefra Produksies (die vervaardigers van Gé Sing: Hoor My Lied!) hulde gebring aan ’n merkwaardige vrou agter die skerms van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf – Lydia Doreen Winchester. Sy is deur Lefra produksies vereer met ’n Eretoekenning vir haar Lewenslange bydrae tot die musiekbedryf in Suid-Afrika. Met ’n loopbaan wat oor bykans vier dekades strek, word sy vereer vir haar onmiskenbare bydrae tot die bevordering en vestiging van Afrikaanse musiek en kunstenaars.

Frans Swart, Besturende Direkteur, van Lefra Produksies sê dat dit vir hom en vir Lefra Produksies ’n ongelooflike groot eer is om hierdie eretoekenning aan Lydia Wynchester te maak. “Ek en Lydia stap werklik al ons hele lewe saam in die Suid-Afriaanse musiekbedryf. Sy was nie net publisiteitsbeampte van ons land se top kunstenaars nie, maar sy was ook mentor, vertroueling, strateeg, inspireerder, modekundige en vele meer vir die kunstenaars. Juis daarom het die groot name dit in die bedryf gemaak, want hulle het ’n Lydia Winchester agter hulle gehad. Om hierdie toekenning aan Lydia juis by ons huldeblykkonsert aan Ge Korsten te maak, beteken vir ons so soveel meer, want Lydia was ook instrumentaal in Ge Korsten se sukses,” sê Swart.

Die eretoekenning wat Lefra Produksies aan Lydia oorhandig het, sluit ’n skildery in deur die kunstenaar, Hannelie Swart. Die titel van die Skildery is Sy het hulle ’n stem gegee. Hannelie sê dat hierdie kunswerk ’n viering is van Lydia Wynchester se merkwaardige bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf. “Haar nalatenskap lê nie slegs in haar eie prestasies nie, maar veral in haar vermoë om ander raak te sien, te ontwikkel en te inspireer. Sy was ’n mentor, talentontwikkelaar en stille dryfkrag agter talle kunstenaars se suksesverhale.” Hannelie voeg by: “Die kunswerk fokus op nalatenskap, mentorskap en die dikwels onsigbare werk wat agter groot suksesverhale skuil. Dit vertel die verhaal van iemand wat ander laat skitter het deur in hulle potensiaal te glo en in die agtergrond gewerk het.”

Lydia Winchester, gebore op 23 Februarie 1956 in Krugersdorp, is die oudste van ses kinders en het haar grootwordjare in Carletonville deurgebring. Haar loopbaan het nederig begin met werk by die poskantoor en later in die korporatiewe wêreld by General Motors en Delta Motors. In 1986 het sy egter ’n lewensveranderende besluit geneem – een wat haar sou lei na die hart van die musiekbedryf, waar sy uiteindelik haar roeping sou vind.

As skakelbeampte by die Decibel-platemaatskappy (1987–2000), onder leiding van Boet Pretorius, het Lydia haarself gevestig as ’n krag om mee rekening te hou. Sy het ’n sleutelrol gespeel in die loopbane van ikoniese kunstenaars soos Gé Korsten, Anneli van Rooyen, Rina Hugo, Johan Stemmet en Leon Schuster. Met haar onwrikbare werksetiek, skerp instink en passie vir mense, het sy ook talle jong talent onder haar vlerk geneem en help ontwikkel tot gevestigde name in die bedryf.

Sedert 2001 werk Lydia as ’n vryskut-praktisyn en behartig sy steeds onverpoosd die publisiteit en bemarking van sowel gevestigde kunstenaars as opkomende sterre. Agter die skerms het Lydia haar stempel afgedruk by groot produksies en feeste, insluitend Afriganza, die Afrikaanse Musiekfees by Carnival City, asook die KKNK se Afskopfees. Haar bydrae tot die bedryf is wyd erken met verskeie toekennings, waaronder Publisiteitsbeampte van die Jaar-toekennings, ’n ATKV-oorkonde, en die gesogte Ghoema Eretoekenning vir Lewensbydrae in 2018. In 2019 is haar buitengewone loopbaan verder vereer met ’n dokumentêre rolprent as deel van kykNET se Legendes van Afrikaanse Musiek.

Hoewel haar naam dalk nie altyd in die kollig is nie, is Lydia Winchester ’n legende in eie reg – ’n vurige, toegewyde en passievolle kampvegter vir kunstenaars en die Afrikaanse musiekbedryf. Haar invloed strek oor generasies, en haar nalatenskap leef voort in elke kunstenaar wie se pad sy help vorm het.

Hierdie spesiale eretoekenning tydens Gé Sing: Hoor My Lied! was ’n gepaste erkenning van ’n lewe van diens, toewyding en liefde vir musiek. Lydia Winchester is nie net ’n publisiteitsagent nie – sy is ’n bouer van drome, ’n beskermengel vir talent, en ’n ware ikoon van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.


UITGEREIK DEUR LEFRA PRODUKSIES
MEER INLIGTING/ ONDERHOUDE/KOMPETISIES:
CHARL SENEKAL: 011 815 3000 OF 061 616 6138
EPOS: admin@lefra.com


Charl Senekal
admin@lefra.com
011 815 3000
Lefra Produksies
http://www.lefra.com