Ope brief aan AJ Opperman

Het van Verlangekraal

Frans Swart, regisseur van Het van Verlangekraal en Besturende Direkteur van Lefra Produksies het ‘n ope brief aan AJ Opperman geskryf oor sy resensie.

Geagte mnr Opperman

RESENSIE: HET VAN VERLANGEKRAAL

Ek sou gewoon nie enige kommentaar op enige resensie van ‘n Lefra Produksie lewer nie, want positewe resensies het nog nooit meer kaartjies in Suid-Afrika verkoop nie. Net so het ‘n negatiewe resensie nog nooit mense aangemoedig om nie na die spesifieke produksie te kom kyk nie. Wanneer u egter vir u uitgee as ‘n teaterresensent en teaterkritkus en soveel blatante foute en aannames maak, kan ek nie anders as om te reageer en u op u blatante foute en aannames te wys met die hoop dat u in die vervolg wanneer u weer aanmatig om ‘n teaterproduksie te kritiseer, u uself moet vergewis van die feite. Google en Ai is gewoon nie betroubare bronne nie. Ek wil ook graag ons teaterbedryf, wat tans gebuk gaan met baie uitdagings, teen u blatante foute en blote aannames vir die toekoms beskerm. Dit wou vir my voorkom of Het van Verlangekraal nie in u verwysingsraamwerk val nie en dat Lefra dalk moontlik nie u gunsteling teatervervaardiger is nie. Die volgende vrae ontstaan dan onwillekeurig: “Hoekom die produksie bywoon en resenseer?” Het u met voorafopgstelde idees die produksie kom kyk? Is u beïnvloed om die negatiewe resensie te skryf?”

 ’n Kritiese resensie staan of val by die akkuraatheid van sy aannames, die konsekwentheid van die produksie, en die vermoë om onderskeid te tref tussen indruk, interpretasie en feitelike tekortkoming. In u resensie van Het van Verlangekraal raak daardie drie elemente herhaaldelik deurmekaar.

U openingskritiek oor “Tjoeke-tjoeke paf” berus op die veronderstelling dat die lied nie in die 1961-tydperk kon bestaan het nie omdat dit eers later opgeneem is. Hierdie argument ignoreer egter die fundamentele aard van volks- en speelliedjies, wat lank voor enige opname mondelings bestaan en van geslag tot geslag oorgedra is. “Tjoeke-tjoeke paf” is reeds in die sestigerjare deur kinders gesing as speelliedjie – veral as ‘n trein aankom of verby ry. Niemand het aangevoer dat die lied as kommersiële opname in 1961 bestaan het nie—die verwysing is duidelik na ’n speellied binne kinders se leefwêreld. Om dit te beoordeel volgens opnamedatum is om volkskultuur met dokumentasie te verwar. Om u sogenaamde kritiek te baseer op oppervlakkige Google- of Ai-navorsing, gaan my verstand te bowe. As u uself as teaterresensent en -kritikus wil uitgee, moet u tog seker maak van u feite. Die vraag word onvermydelik gevra: “Was u ooit betrokke by die skepping van enige teaterproduksie in watter kategorie ookal – skryf, toneeelspeel, tegnies, regie, vervaardiging ens.” Indien u by enige van hierdie kategorieë betrokke was, sou ek u resensie ernstig kon opneem.

U beoordeel die hoofrolspeler, Nikita Meyer as Het as volg: “Meyer is ‘n jong speler en toon gewis belofte, mits sy haar vlerke wyer sprei.” Wat is u aanname daarmee? Beoordeel of veroordeel u haar reeds vir toekomstige rolle en wanneer sy haar “vlerke wyer sprei”? Is dit ‘n subtiele kap na Lefra Produksies se kwaliteit van produksies? Die eenvoudige vraag wat uself vir u moet vra in u resensie van Het van Verlangekraal – het Meyer goed of sleg gespeel. Dit is tog duidelik dat u die huidige produksie, Het van Verlangekraal, resenseer. Is u moontlik ‘n dramadosent of teateragent wat Meyer se toekomstige rolle sal bepaal?

Dieselfde probleem herhaal hom wanneer u sekere uitdrukkings as anachronisties beskou, soos “te veel inligting”. Hierdie frase vereis geen spesiale historiese oorsprong om verstaanbaar of gebruikbaar te wees nie; dit is ’n eenvoudige kombinasie van alledaagse taal. Om dit as tydsgebonde te bestempel sonder bewyse, bly ’n aanname eerder as ’n bevinding. Ek vra die vraag of u in u wysheid besluit het, dat die woorde “te veel ingligting” nie in 1961 bestaan het nie. Op watter bewyse staaf u u bevinding?

U beskrywing van die produksie as “te lank” word eweneens as selfverduidelikend aangebied, maar sonder konkrete aanduiding van waar dramatiese spanning sou ontbreek of waar die toneelstuk moontlik kon getrek het. Met openingsaand moes twee tonele weens ’n tegniese fout noodgedwonge herhaal word, wat die waarneming van “uitgerekheid” verder problematiseer. Nadat ons tegniese beligtingsprobleme ondervind het (‘n rot wat ‘n beligtingskabel verwoes het) was ek mans genoeg om die besluit te neem om die produksie vir die oomblik te stop, die beligtingsprobleem te herstel en die spesifieke twee tonele weer vir die gehoor te speel. Dit was ‘n brawe, maar noodsaaklike besluit. Die gehoor het die tonele met professionele beligting verdien, en het toe spontaan applous gegee vir hierdie tonele soos wat u sekerlik ervaar het. In my wêreld, mnr Opperman, heg ek groot waarde aan wat my gehore vir my sê en nie noodwendig aan flou eensydige resensies nie. As u Donderdagaand dalk te moeg was om Het van Verlangekraal te kom kyk en objektief te kom resenseer het, nooi ons u graag uit na ‘n volgende vertoning waar u dan vars en fris ons werk kan beoordeel. Die gehoorreaksie—’n vol teater wat tot die einde bly sit en met ’n staande toejuiging (seker 398 mense, want u sou seker nie vir die geselskap opgestaan het nie) reageer—staan ook reglyn met u eie mening. Elkeen is natuurlik gergtig op sy/haar eie mening. Wanneer u mening egter gepubliseer word, moet u dit met omsigtigheid hanteer, maar immers seker maak van u feite. Indien u nie die agtergrond oor Het van Verlangekraal kon opspoor nie, kon u net seker gemaak het van u feite in die programnotas.

Net vir u rekord – Het van Verlangekraal by die Fairtree Atterbury Teater is vir die volle speelvak totaal uitverkoop. Ek heg hieraan baie waarde, want teatergangers besluit self wat hulle wil gaan kyk en wat nie.

Wanneer u vervolgens die roman en oorspronklike verhaal as verwysingspunt vir die verhoogteks gebruik, ontstaan ’n verdere kategorie-fout. Die verhoogproduksie is nie ’n verwerking van die roman (soos wat u beweer) nie, maar ’n selfstandige dramateks deur Leon van Nierop. Om die verhoogproduksie teen die roman se struktuur te meet, is om twee verskillende media as ekwivalent te behandel, met voorspelbare gevolge vir die gevolgtrekkings. Watter relevansie het die lengte van die roman tot die verhoogproduksie? Watter relevansie het die lengte van Johann Bekker se roman tot Leon van Nierop se roman. Dit voel werklik of u ons as teatermakers merk en punte gee. Kry jy ‘n beter punt vir ‘n korter produksie? Hier is ‘n paar kantaantekeninge vir u vir die toekoms: Die bekende Aletta Gericke het altyd gesê ‘n produksie is so lank as wat die storie is om te vertel. Die alombekende televisieregisseur, Louise Smit se woorde was altyd: “Jy moet die mense tyd gee om te wy!”

U opmerkings oor taal en styl, insluitend frases wat volgens u “te slim” of bloot retories is, volg ’n soortgelyke patroon. Op verskeie plekke word indrukke verpak as analise, sonder dat dit duidelik word watter dramatiese funksie daarmee bevraagteken word.

Selfs waar u die simboliese lees van die stel en intertekstuele verwysings na ander werke aanraak, word hierdie elemente hoofsaaklik gelys eerder as ontleed. Die vraag bly telkens onbeantwoord: hoe funksioneer dit binne die spesifieke produksie, en waar faal dit? Sonder daardie koppeling bly die verwysings losstaande assosiasies eerder as kritiek.

U opmerkings oor kostuums en HET se voorkoms berus op ’n streng realistiese verwagting wat nie noodwendig ooreenstem met verhoogkonvensies nie. Die produksie vestig van die begin af Het se armoede, haar huislike omstandighede en haar sosiale wêreld. Hierdie elemente word eksplisiet in die narratief gevestig en nie weggelaat nie. Om dan kostuums as “onrealisties” te bestempel sonder om die funksie daarvan binne karakter en konteks te oorweeg, skep die indruk van selektiewe waarneming.

Verder is daar tegniese verwarring tussen u resensie van “stel” (set) en “rekwisiete” (props), wat die beskrywing van verhoogelemente ondermyn. Floors se huisie is ‘n stel en nie ‘n rekwisiet soos u beweer nie. Hierdie onderskeid is nie semanties nie, maar noodsaaklik vir akkurate beskrywing van verhoogontwerp.

Dan die “cherry” op die koek: “Van die akteurs is gewoon te jonk om daardie karakters lewensgetrou te maak.” Kyk as ek nou ooit van ‘n “sweeping statement” gehoor het, dan is dit hierdie een. Natuurlik moes u hieroor in u resensie uitgebrei het. Watter speler was te jonk om die karakter uit te beeld en hoekom? Watter navorsing het u gedoen om ouderdomme van die karakters te bepaal? Vergelyk u bloot die akteurs in die TV-reeks met die akteurs in die teaterproduksie?

In u slotgedeelte word klank, nostalgiese radio-elemente en advertensieklanke beskryf as “gedwonge nostalgie” wat nie by die storie pas nie. U ignoreer egter die feit dat die radio ’n sentrale element in Het se wêreld is—haar ontvlugting en haar verbinding met haar omgewing. Verwys na die radiotjie wat Floors se ma vir Het gegee het. Ook Het se redding van haar radiotjie toe haar pa die radio wou stukkend gooi. Springbok Radio en herkenbare klankfragmente funksioneer dus nie as versiering nie, maar as karakter- en tydsbeeldbou. Die gehoor se spontane reaksie, insluitend lag en applous is lynreg met u idee dat hierdie elemente nie werk nie. Kan u ook asseblief vir my “gedwonge nostalgie” definieer? Volgens watter raamwerk het u die bevinding gemaak?

Wat uiteindelik sigbaar word in u resensie, is nie ’n konsekwente analise van die produksie nie, maar ’n herhalende patroon waar aannames as feite aangebied word, waar indrukke as argumente funksioneer, en waar funksionele verhoogkeuses gereeld as tekortkominge herinterpreteer word.

Streng kritiek is noodsaaklik in teater, maar dit vereis presisie, konteks en konsekwentheid. Sonder dit verloor selfs die mees selfversekerde oordeel sy kritiese gewig. U het glad nie daarin geslaag om vir my of u lesers te oortuig van u eensydige siening nie. Ek het een belangrike vraag om vir u te vra – was daar nie een puntjie in die hele produksie waarop u positief kon reageer het nie. Dalk die buiging? Ek stem saam met een van u eie lesers se mening wat as volg lees: “Toe verval Opperman ook om ‘n klomp woorde te gebruik en ek weet nie wat sy probleem regtig is nie.”

Mnr Opperman u is werklik welkom om enige Lefra-produksie in die toekoms te resenseer mits u ‘n kaartjie koop en betaal soos enige ander teaterganger!


Frans Swart
admin@lefra.com
011 815 3000
Lefra Produksies
http://www.lefra.com


Disclaimer: Artslink.co.za encourages freedom of speech and the expression of diverse views. The views published do not necessarily represent the views of Artslink.co.za.

Erlank slaan vir Doorsie
Erlank slaan vir Doorsie
Het
Het
Het en Floors
Het en Floors
Doorsie en Het
Doorsie en Het
Doep en Het
Doep en Het
Floors en Het
Floors en Het
Frans Swart
Frans Swart