Twaalfde Oppiwater Kunstefees
Lefra Produksies en RSG se twaalfde Oppiwater Kunstefees-program word op 8 Oktober 2025 bekend gemaak.
Die Oppiwater Kunstefees vind volgende jaar van 9 tot 14 April 2026 aanboord die MSC Opera plaas en vaar van Kaapstad na Namibië. Kajuitbesprekings kan gedoen word by www.oppiwater.co.za of 011 844 6073. Besprekings vir feeskaartjies kan gedoen word by www.LTickets.co.za of 011 815 3000. Die Oppiwater Kunstefees word aangebied met die vriendelike samewerking van Ambassador Execudrive, Britz Couriers & Removals, Feeste.net, Hollywood Costumes, LTickets, Lift Airlines, MSC Cruises, Mannah Gastehuis en Konferensiesentrum, Mobilis Auto, RSG, Van Loveren en WS Pianos. Meer inligting by www.oppiwater.co.za of skakel Monica Booysen by 011 815 3000.
Frans Swart, Feesdirekteur van die twaalfde Oppiwater Kunstefees, sê hy is baie opgewonde oor die kunste-aanbod op 2026 se Oppiwater Kunstefees. “Ons kunsskippie gaan behoorlik uit sy nate bars met alle kunsvorme soos drama, komedie, klug, musiek, sang, kuns, radio en selfs kreatiewe skryfwerk. Die lekkerte van die Oppiwater Kunstefees is dat ons vir ses dae vasgevang word in ‘n borrel van die kunste, heerlik eet en drink, partytjie hou, Namibië besoek en veral nuwe vriende maak,” sê Swart. Hy sê dat alle balkonkuitje reeds in Maart vanjaar tydens die Oppiwater Kunstefees opgeraap is. “Dit is wonderlik dat ons kan aankondig dat alle balkonkajuite reeds uitverkoop is. Die feit dat ons feesgangers Oppiwater so geniet het en sommer daar en dan vir die volgende jaar ‘n kajuit bespreek het, is werklik ‘n riem onder die hart.” Hy sê dat alhoewel alle balkonkajuite reeds uitverkoop is, is dat daar egter nog heelwat binnekajuite en see-uitsigkajuite beskikbaar is. “Ek sê altyd vir ons feesgangers dat al die kajuite eintlik almal presiese dieselfde lyk. Daar is so baie aktwiteite dat ‘n mens werklik net tyd het om in jou kajuit te slaap en te stort.”
Op dramagebied, word daar heelwat top dramas aangebied soos Wilhelm van der Walt in Seun, Ingrid Jonker – ‘n Vlam in die Sneeu, en dan word die ontstellende Prooi/Prey wat oor mensehandel gaan ook aangebied, Leon van Nierop se Het van Verlangekraal (na die verhaal van Johann Bekker) gaan ook vir die eerste keer op die verhoog opgevoer word. Op poësiegebied bring Elma Potgieter ‘n wonderlike poësieprogram skip toe, Vrou vs Vrou.
Feesgangers kan lekker kom lag vir komedies en klugte soos Lefra Produksies se nuwe komedie, Vlerksleep. Daar is ook Dinner for One/Sopper vir Een, Tollie Parton in Hoofseun, Botha Enslin in Die Pomporrelkonsert, Phillru van Achterbergh in Groet die Grotman 2 en die skreeusnaakse klug, My Boetie se Sussie se Ou.
Opwindende dinge gebeur op musiekgebied met ‘n debuut huldeblykproduksie aan Bles Bridges, Die musiek van Bles Bridges met Christo Snyman, Nic Stevens, Cobus Snyman, Fatman (Johan Brummer) en Louis Loock. Twee musieklegendes, Coenie de Villiers en Rocco de Villiers span kragte saam in die produksie 88, André Schwartz kan gesien word in Any Dream Will do – my Pad met Webber sowel as in ‘n splinternuwe produksie, Die Kronieke van Buks met die musiek van Billy Joel. Richard van der Westhuizen vier sy veertig jaar in die vermaaklikheidsbedryf met Richard 40, Wynand Strydom bring hulde aan Koos du Plessis in Koos Doep, daar is die RSG Galakonsert, die jaarlikse Ontploffing Dekpartytjie, Dik en Dun met Fatman en Nic Stevens, Gé Sing – Hoor my Lied, die Klipwerf Orkes is ook vanjaar op die Oppiwater Kunstefees en gaan sorg vir wonderlike boeremusiek. Stephanie Baartman debuteer ook met ‘n nuwe musiekproduksie op die Oppiwater Kunstefees, ‘n Skatkis uit ons Verlede. Op geestelike gebied, doen Die Broers en ds Francois Gouws die geestelike ervaring, In die Spore van Jesus.
Swart het ook ‘n aankondiging gemaak oor die Oppikaai Fees in Walvisbaai. “Ons is baie opgewonde oor hierdie fees, want ons het met die Organiseerders van Oppikaai gereël dat die Oppiwater Feesgangers op Saterdag, 11 April 2026 van die MSC Opera kan afgaan na die kaai en waterfront waar hierdie lekker Fees gaan plaasvind. Ons feesgangers kry dus twee feeste vir die prys van een,” het hy gesê. Kunstenaars wat op die Oppikaai Fees gaan optree, is Just Jack, Johan Liebenberg, Jezelle, Karlien Husselman, Willem Botha, Jay, Deon Groot, Ray Dylan, Jakkie Louw en Early B.
RSG gaan elke dag regstreeks van die dek af uitsaai enfeesgangers kan ‘n opname van ‘n radiodrama bywoon. Die RSG omroepers wat deel uitmaak van die Oppiwate Kunstefees is Derrich Gardner, Eloise Cupido, Fran-Rico Lucas en Johan Rademan. Daar is ook ‘n kreatiewe skryfkursus wat deur Hendie Grobbelaar aangebied word. Coenie de Villiers en Nic de Jager is in die verhoog-memoire, In My Eie Woorde, te sien. Hannelie Swart bied haar gewilde Skilder en Wyn aan, Van Loveren Wyne span kragte saam met Wynand Retief, Christo Snyman en Johan Rademan in Wynproe 101. Daar is ook die daaglikse Ontmoet die Kunstenaars waar feesgangers kan kom skouer skuur met die kunstenaars op die skip. André Schwartz gaan ook ‘n Meestersklas in Sang aanbied wat deur ‘n gehoor bygewoon kan word.
Die volledige program sal gepubliseer word by www.oppiwater.co.za
Kajuitbesprekings kan gedoen word by www.oppiwater.co.za of by 011 844 6073. Feeskaartjies kan vanaf 8 Oktober 2025 bespreek word by www.LTickets.co.za of by 011 815 3000. Vir enige navrae, skakel Monica Booysen by 011 815 3000 of epos aan info@lefra.com
UITGEREIK DEUR LEFRA PRODUKSIES
Medianavrae/Onderhoude:
Charl Senekal
Tel: 011 815 3000
Sel: 061 616 6138
Epos: admin@lefra.com
Charl Senekal
admin@lefra.com
011 815 3000
Lefra Productions
http://www.oppiwater.co.za
