Oppiwater Kunstefeesprogram bekend
Die Oppiwater Kunstefees word van 22-27 Maart 2025 aanboord die MSC Musica aangebied en vaar van Kaapstad na Namibie.
Die feesprogram van RSG en LEFRA PRODUKSIES se elfde Oppiwater Kunstefees is so pas bekend gestel en spog met meer as 48 verskillende Afrikaanse Teaterproduksies. Die Oppiwater Kunstefees word volgende jaar vanaf 22-27 Maart 2025 aanboord die MSC Musica aangebied en vaar vanaf Kaapstad na Namibië. Kajuitbesprekings kan gedoen word by www.oppiwater.co.za of by 011 844 6073. Vir Feeskaartjies, bespreek by www.LTickets.co.za of 011 815 3000. Vir meer inligting, skakel Monica Booysen by 011 815 3000 of epos aan oppiwater@rsg.co.za Meer inligting by www.oppiwater.co.za en die volledige program verskyn by https://www.oppiwater.com/program/ Die Oppiwater Kunstefees word aangebied met die vriendelike ondetsteuning van Ambassador Execudrive, Britz Couriers and Removals, Hollywood Costumes, Lefra Produksies, Lift, LTickets, RSG, Van Loveren Wyne en WS Pianos.
Frans Swart, Feesdirekteur van die Oppiwater Kunstefees sê dat die Oppiwater Kunstefees steeds ‘n unieke konsep en fees is. “Ek kan Oppiwater nie beter beskryf as die skepping van ‘n borrel van die kunste nie. Vir ses dae leef, eet, gesels en vier ons die kunste! Die feit dat mens nêrens hoef te ry nie, al jou etes is reeds ingesluit, die vriendskap wat mens op die skip maak en net die anderster omgewing, maak van Oppiwater so ‘n unieke ervaring,” sê Swart. “Daar is nie robotte wat nie werk nie, stofstrate, verkeer, geen beurtkrag en veral geen padblokkades nie. Jou uitdaging is net om jou kajuit elke aand te vind! Onthou altyd! Een kant is die gelyke kajuitnommers en aan die ander kant die ongelyke nommers”, skerts hy.
RSG se omroepers Johan Rademan, Martelize Brink, Derrich Gardner en Fran-Rico Lucas is jou gasvrou en gashere op die 2025 Oppiwater. Vir die eerste keer word die RSG Galakonsert aangebied met Chanie Jonker as musiekregisseur. Hierdie galakonsert word ondersteun deur Afrikaans100 en Lefra Produksies en sal bestaan uit die room van ons Afrikaanse kunstenaars. Die omroepers bring ook hulle deel Oppiwater. Daar sal elke oggend ‘n regstreekse uitsending van die dek af wees. Martelize Brink se aanbieding is getiteld, Die Ander Pad, Derrich Gardner leer ons feesgangers van koffie in My Moer, Johan Rademan laat feesgangers die ervaring van die opneem van ‘n Radioteater ervaar en Fran-Rico Lucas het Joltyd met die Feesgangers.
Op drama- en komediegebied, kan feesgangers uitsien na Reunie met Frank Opperman, Tollie Parton in Hoofseun, Moord met ‘n T, Routrip met Elzabe Zietsman, Hans Bars die Bioborrel, Groet die Grotman 2 met Phillru van Achterbergh, Die Pomporrelkonsert met Botha Enslin, Dinner for One/Sopper vir Een met Elma Potgieter en Justin Strydom, Wat Wolke Weeg, Radiodrama met Johan Rademan, die nuwe klug, My Boetie se Sussie se Ou en Skaterlag met André, die Skreeusnaakse Hipnotiseur.
Die musiek- en kabaretaanbod is ook baie opwindend. Rocco de Villiers doen Klawer – Woord en Musiek, Boeremusiek – Rocco Styl en Klavuur, Afrikaans 100 bied ‘n wonderlike liederkonsert aan, Die Kuns van die Afrikaanse Kunslied, Fatman is te sien in Van The Voice tot Oom Olifant, Hallelujah met die Die Broers en ds Francois Gouws, Houtkruis met Koos van der Merwe, Coenie de Villiers is te sien in Wie kan my sê van die Liefde en Op ‘n Eiland, André Schwartz is in Gesigte en Merry Krismis Elvis, Coenie en André is ook te sien in hul gewilde produksie, Grensloos, Frank Opperman in Oppermanaf, Drie van die Bestes, Versnit met Danie Niehaus en Germandt Geldenhuys, die kabaret Vier Panado’s en ‘n Chardonnay, ‘n lekker langarmdans met Hennie de Bruin en die Kitaarkêrels, Gé Sing – Hoor my Lied, Klassiek ontmoet Pop met Louis Loock en Cobus Snyman, Mathys Roets in In my Lewe, Koos van der Merwe in Leonard Cohen vir die Afrikaanse Siel en Goue Oues met Alwyn Oberholster.
Die beeldende kunste kry ook ‘n kans Oppiwater. Die kunstenaar, Hannelie Swart doen elke oggend haar Skilder en Wyn Oppiwater waar feesgangers die geleentheid het om hul eie skildery te maak. Hannelie sê geen kunstalent of kunsopleiding is nodig nie. “Elkeen het ‘n regter brein en ek werk baie meer op die ontdekking van die self,” sê sy. Daar word elke oggend net 25 feesgangers geakkommodeer en alle kunsmateriaal word verskaf. Van Loveren Wyne verskaf lekker wyn om die kreatiwiteit so bietjie te prikkel!
Daar is ook heelwat ander unieke projekte en produksies op die Oppiwater Kunstefees. Elke middag om vyf uur word Ontmoet die Kunstenaars aangebied waar Feesgangers die geleentheid gebied word om al die kunstenaars meer formeel te ontmoet, foto’s te neem en lekker skouer te skuur. Elma Potgieter bied ‘n wonderlike poësieprogram aan, Vrou vs Vrou. Ses van die Bestes is ‘n lekker wynproe deur Van Loveren Wyne wat ingelei sal word deur Wynand en Pennie Retief van Van Loveren Wyne. Daar gaan “ses van die beste” wyne van Van Loveren Wyne geproe word. Saam met die heerlike wynproe, dra Johan Rademan wonderlike poësie voor en Christo Snyman sing die mooiste luisterliedjies. ‘n Wenk vir feesgangers wat Ses van die Bestes bywoon: Pak vir jou ‘n bordjie soutgoed in van enige van die verskillende restaurante en bring jou bordjie kaas en brood saam om die wyn met ‘n soutigheidjie te geniet.
Swart sê dat hulle wel ‘n kaartjieskantoor op die MSC Musica beskikbaar sal hê, maar hy beveel Feesgangers aan om nou reeds hul feeskaartjies te bespreek in Rande in Suid-Afrika by www.LTickets.co.za “Omdat ons in internasionale waters vaar, moet daardie kaartjies in Dollars verkoop word wat natuurlik heelwat duurder gaan wees as in SA Rand.”
UITGEREIK DEUR LEFRA PRODUKSIES
MEER INLIGTING/ ONDERHOUDE/ KOMPETISIES:
CHARL SENEKAL: 011 815 3000 of admin@lefra.com
Charl Senekal
admin@lefra.com
011 815 3000
Lefra Productions
http://www.oppiwater.co.za