Dood van die Founmannetjie toer die Kaap
Dood van die Founmannetjie en ander Ferdinand Deist Weskus Stories toer in die Kaap van 5-8 November.
Regisseur en Vervaardiger: Frans Swart
Met Botha Enslin
Bespreek by www.diekoelkamers.com
“Man, ou Lettie Ingelbrê het baie gedoen hier in ons buurt … bak virrie kjerkbesaar, blomme insteek by die troues, waak by die siekes … alles …haar hanne ‘t vir niks ve’keerd gestaan nie … Maar kan ‘ie ou mens vir jou geskinner ‘t! Dis nou een swak wat die ou siel gehad ‘t wat sy nie ontslae van kan geraak ‘t nie. Dit ennie vrees virrie dood…” Ja, soos ’n bontspul vygies wat in ’n dorre Sandveldse landskap uitbars, so kleurryk is die mense wat hierdie streek aan ons land se Weskus hul tuiste noem. Sommige groots soos hul omgewing, of klein en dwaas soos mense ook maar is, soos onse Lettie Engelbrecht hierbo. Botha Enslin bring ’n keur van gewilde kontreistories, geskryf in die tipiese streekstaal wat handel oor ’n unieke wêreld en sy mense, na die verhoog toe in Die Dood van die Founmannetjie en ander Ferdinand Deist Weskusstories in ’n lekker Kaapse toer van 5 – 8 November 2025. Masque Teater (Muizenberg) – 5 Nov; Drostdy Teater (Stellenbosch) – 6 Nov; Die Koelkamers (Paternoster) – 7 Nov en by die Drama Factory Teater (Strand) op 8 Nov. Besprekings vir Die Dood van die Founmannetjie en ander Ferdinand Deist Weskusstories kan gedoen word by www.LTickets.co.za of 011 815 3000.. Meer inligting is beskikbaar by www.foonman.co.za. Die produksie word met die trotse ondersteuning van Ambassador Execudrive, Britz Couriers and Removals, Hollywood Costumes, Lift-lugredery, RSG, Van Loveren Wyne, Vellie Boutique en WS Pianos aangebied.
“Daar is Oompie Paul se Groot Nood¸ Die Pomporrelkonsert en Die Oorbesige prekkereer wat begin: “Kyk, ek weet nou nie of jy die storie ken vannie moles wat daar die keer innie hemel gewees ‘t toet Petrus die duiwel wel gedagvaar ‘t nie…”. Ons ontmoet ook vir Pensie, nurse Drientjie van Schalkwyk, Tanta Anna, sy met die wye tande en natuurlik Dirk Ligter, die nimlike hy…”, sê Botha, wat in die produksie lewe gee aan meer as 30 karakters. “Botha Enslin is ‘n meester van karakterisering”, sê regisseur Frans Swart. “Hierdie man kan net met ‘n draai en ‘n beweging vir jou die volgende karakter gee. Hy is ongelooflik talentvol.”
Die stories in Die Dood van die Founmannetjie en ander Ferdinand Deist Weskusstoriesis geskryf deur Ferdinand Deist, wie se bundel Die Pomporrel-konsert en ander Sandveldstories so paar jaar gelede weer op RSG voorgelees was. “Die verhoog was dus die logiese volgende stap”, sê Frans, wat die stories vir die verhoog verwerk het. Om verder kleur aan die produksie te gee, het Swart ook stories van Boerneef en Jan Spies bygevoeg. “Dit was moeilik om stories te kies uit die keur wat Deist vir ons geskep het, want hy het die wonderlikste stories oor die Sandveld geskryf!” Deist was ‘n professor in Teologie maar hy het die gawe gehad om die stories en die spreektaal van die Sandveld perfek neer te pen.
Enslin het reeds vir Lefra Produksies in verskeie produksies gespeel, waaronder al Lefra se gewilde klugte sedert 2013, asook die kinderproduksie Liewe Heksie. Hy het sy Nasionale Diploma vir Drama in 2003 verwerf aan die destydse Technikon Pretoria onder leiding van Woutrien Theron. Behalwe die talle verhoogproduksies,het Botha ook verskeie televisie- en radioproduksies en -advertensies op sy kerfstok. Hy was onder andere te siene in Rhythm City,Generations, Isidingo, Thys en Trix en ‘n paar Silwerskermfilms. Hy is ook ‘n eiendomsagent.
Kom ontmoet die kleurryke karakters van die Sandveld in Die Dood van die Founmannetjie en ander Ferdinand Deist Weskusstoriesin die Kaap van 5-8 November 2025.. Besprekings vir Die Dood van die Founmannetjie en ander Ferdinand Deist Weskusstories by www.Ltickets.co.za 0118153000 of www.foonman.co.za
UITGEREIK DEUR LEFRA PRODUKSIES
Medianavrae: Charl Senekal | Tel: 011 815 3000 | Sel: 061 616 6138 | E-pos: admin@lefra.com
Charl Senekal
admin@lefra.com
011 815 3000
Lefra Produksies
http://www.foonman.co.za



