‘n Nuwe hoofstuk vir Landbouweekblad

Chris Burgess

Oor die bietjie meer as ’n eeu wat Landbouweekblad ons boere dien, het dinge waaragtig baie verander.

“Toe die tydskrif in 1919 vir die eerste keer verskyn het, was dit ’n desperate poging om Afrikanerbestaansboere, wat verarm is deur die verwoesting van die Boere-oorlog, met praktiese landbou-inligting te probeer kommersialiseer,” sê redakteur Chris Burgess. “Vandag is ons wêreldklas-landbou ’n getuigskrif van hoe suksesvol daardie poging uiteindelik was. Ons boere word deesdae, wyd en suid, as van die beste ter wêreld beskou.”

Met die verloop van tyd, het osse en perde se touleiers van weleer plek gemaak vir reuse-ysters met ’n magdom slim digitale oë wat alles dophou. Hommeltuie, genomika en slim klimaatbeheer is deesdae so deel van ’n boer se lewe soos droogtes en donderstorms. Soos wat landbou oor die jare verander het, het Landbouweekblad ook aangepas.

“Waar daar voorheen net ’n tydskrif was, het ‘Landbouweekblad’ mettertyd ’n gesonde oes nuwe produkte voortgebring. Daar is ’n gewilde TV-reeks, ‘Landbouweekliks’, en landbouboeke soos Hennie Snyman se ‘Weidingsgids’, die ‘Vra vir Faffa-dieregesondheidsreeks’, of Theo Vorster se toonaangewende familieboerderyhandleiding,” voeg hy by.

Daar is ook ’n reeks spesiale tydskrifte wat jaarliks uitgegee word – Vee, Tegnologie, Boereplanne en Herlewingslandbou, en natuurlik Boerekos wat vandag Suid-Afrika se grootste verkoopte kostydskrif is. Dan is daar webinare en konferensies, waar van die wêreld se beste kundiges hulle kennis met boere deel, en wat op ’n verskeidenheid platforms uitgesaai word.

“Nou, vir die eerste keer, gaan al hierdie produkte in een kraal beskikbaar wees ­– landbou.com. Teen slegs R149 per maand, soveel as wat vier uitgawes van die tydskrif in ’n maand sou kos, kan jy deur landbou.com toegang kry tot al ‘Landbouweekblad’ se magdom produkte,” deel Chris.

Daar kan jy nou ’n Landbouweekliks-episode oor een van ons top-boere gaan kyk, of een van ’n verskeidenheid spesiale tydskrifte kan lees. As intekenaar, sal jy ook geregtig wees op ’n stewige afslag op enige nuwe webinare, of miskien wil u een van die oues gaan kyk?

Besoek ook die weerafdeling vir die nuutste weervoorspellings, ontledings van weerpatrone, algemene weerstories en gereelde gesprekke met streeksvoorspellers.

’n Omvattende artikel-argief, met inligting oor amper enigiets oor landbou, boerdery en die platteland wat oor die afgelope paar jaar gepubliseer is, is ook beskikbaar.

“Dan is daar natuurlik ook die ‘Landbouweekblad’-tydskrif self, wat in PDF-formaat op landbou.com gelees kan word – nog voor dit op die koöperasie-rak verskyn of in die pos vertraag kan word! Om die proses in te lui, het die tydskrif ’n vars voorkoms gekry,” verduidelik hy.

Dit is alles natuurlik buiten al die ander dinge wat landbou.com die grootste aanlyn-landbouplatform in Suid-Afrika maak; Nuusberiggewing deur ’n deurwinterde span landboujoernaliste, die nuutste markpryse, of die immergewilde Vra vir Faffa-platform, waar ’n paneel kundiges enige landbouvraag sal beantwoord.

Jy sal verstom wees deur ons landbouers se vindingrykheid, wanneer jy die boereplanne-argief besoek. Mettertyd sal daar nog selfs meer wees om te ervaar, soos wat hulle aanhou strewe om landbou so deeglik as moontlik te dek, en ’n aanlyn Afrikaanse tuiste vir landbou te skep.

“Met toepassings vir alle fone, en ’n luisterfunksie wat u sal toelaat om na Landbouweekblad-artikels in u stroper of bakkie te luister, bly dit vir ons ’n voorreg en eer om ons land se trotste landboubedryf te bedien, in watter formaat ook al. Ons hoop u gaan dit geniet om saam met ons op ons splinternuwe werf te boer, soos wat ons hierdie nuwe hoofstuk in ons eeu lange reis met ons boere betree,” sluit Burgess af.


Alishia van Deventer
alishia@starburstmusic.co.za
083 635 4717
Starburst Promotions
http://www.starburstmusic.co.za