Die spoke is weer los in Pretoria

Pta-SPOOKBUS-uitstappie

Pta-SPOOKBUS-uitstappie – opkomende datums: 25 September en 2 Oktober 2021.

“Ons is net dankbaar dat ons nou weer stories kan vertel.” So sê Jaco Hough-Coetzee, die storieverteller van Spookstorie Produksies se gewilde Pta-SPOOKBUS-uitstappie.

Nadat Spookstorie Produksies al hulle onderskeie uitstappies en vertonings in Junie tydelik moes opskort, toe die Covid-19-vlaag ’n hoogtepunt bereik het en die aandklokreël vervroeg is, kan hulle nou weer heropen met die volgende uitstappies wat op 25 September en 2 Oktober 2021 in die Jakarandastad aangebied word.

Dit volg nadat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) aangekondig het dat Suid-Afrika uiteindelik uit die derde vlaag Covid-19-infeksies begin beweeg en die land nou na Vlak 2 van nasionale inperking kan skuif.

“Dit is wonderlike nuus vir ons, maar ook vir die hele vermaakbedryf sowel as vir die publiek,” sê Samantha Cronjé, kantoorbestuurder van Spookstorie Produksies. “Mense is honger vir ’n aand uit en as dit boonop gepaard gaan met die vertelling van ware spookstories, is die belangstelling net soveel meer. Dit is miskien die hoofrede hoekom ons vir die afgelope vyftien jaar reeds die Pta-SPOOKBUS-uitstappie maandeliks kon aanbied.”

Jaco Hough-Coetzee sê dat hoewel party mense soms na die Pta-SPOOKBUS-uitstappie as ’n toer verwys, dit egter nie ’n tradisionele toer is met die uitsluitlike doel om geboue en plekke te besoek of te besigtig nie. “Dit is eerder ’n Storie-op-Wiele-uitstappie, waar jy as reisende gehoorlid per bus deur die strate van die Jakarandastad geneem word, terwyl jy luister na al daardie nostalgiese stories wat in die donker opgesluit lê,” verduidelik hy.

“Anders as in ’n statiese verhoogproduksie vind hierdie aanbieding op verskillende plekke plaas: hoofsaaklik op die bus tydens die rit, maar ook van die bus af wanneer ons onverwags hier-en-daar afklim vir nog stories.”

Jacci Coetzee, die tegniese bestuurder, sê die program bestaan uit vertellings van ware spookverhale waarvan die meeste in Pretoria afspeel. “Maar ons sluit ook ’n paar stories in vanaf elders in die land. Verder bied die aand jou basiese agtergrondinligting oor die bonatuurlike- en die geesteswêreld. Herontdek ook tussen dit alles deur die interessante geskiedenis van die omgewing wat toentertyd ’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van die stad.”

Van die spookstories wat tydens die uitstappie vertel word, sluit in Die spook by The Glen High School, Die vlieënde Hollander, Die verskynsels in die Erasmushuis, Spookmeisie van Uniondale en die Gedaantes van Steytlerville.

As deel van Pretoria se geskiedkundige agtergrond, word die stories vertel van geheimsinnige, vreemde en afgryslike reeksmisdadigers in die stad. Onthou jy nog die stories van die Panga-man (1950’s), Gert van Rooyen (1990’s) of Daisy de Melker (1920’s)?

“Ja, ons hark inderdaad hierdie stories ook nader tydens die aanbieding, want dit vorm alles deel van die verlede wat ons opdiep,” sê Samantha. “Dit is ’n multi-media-teater-op-wiele-ervaring,” beskryf sy dit. “ ’n Kultuur-historiese-storie-aand.”

Jaco Hough-Coetzee sê dat hoewel die meeste stories in die aand se program volksbesit en reeds in verskeie publikasies gepubliseer is, geniet hy dit die meeste om die stories wat mense persoonlik met hom gedeel het oor te vertel. “Ek vertel onder andere die storie van Wouter Malan wat vir ’n gees ’n saamry-geleentheid Potchefstroom toe gegee het ure nadat sy in ’n motorongeluk gesterf het. Nog ’n hoendervleis-storie, is die een van André de Wet van De Aar wie se swaer hom een aand besoek het, weke nadat hy en sy familie in ’n kop-aan-kop botsing naby Kroonstad omgekom het.”

Jaco wil nou by Pretorianers weet of hulle gereed is om op die storiebus te klim en weggeneem te word in die donkerte van die nag?

“Op ’n aand uit waar ons gaan luister na die geskiedenis van die omgewing en sy interessante plekke, maar ook na die verhale van mense wat eens op ’n tyd hier gewoon het – waarvan sommiges vergeet het om te vertrek.”

Maar hy waarsku ook: “Wanneer jy die gedreun van die bus-enjin onder jou hoor, is daar geen omdraaikans meer nie.”

Opkomende datums: 25 September en 2 Oktober 2021
Lusmakervideo: https://www.youtube.com/watch?v=vXXRyjgN7WM
Meer inligting: https://www.spookbus.co.za/spookbus-uistappie-oorsig/
Besprekings: https://www.spookbus.co.za/spookbus-uitstappie-besprekings/
Sosialemedia: https://www.facebook.com/PretoriaSpookbus
Navrae: 076 319 1660 of spookbus@gmail.com


PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za


Alishia van Deventer
alishia@starburstmusic.co.za
083 635 4717
Starburst Promotions
http://www.starburstmusic.co.za