Mathys Roets met “Intiem en Akoesties” in Springs Tuinkonsert

Mathys Roets

Ons moes nege jaar wag vir Mathys Roets se nuutste album, en Reën het laat verlede jaar die lig gesien!

Oos-Randse gehore kan egter uitsien na Mathys se Intiem en Akoesties op Saterdag, 6 Maart in Springs. Die unieke konsert, wat heelwat materiaal vanaf Reën insluit, vind by die Presidents Ranch Eco Estate plaas. Daar word reeds vanaf 18:00 gekuier, en elke gas ontvang ‘n glasie Van Loveren-wyn en ‘n pakkie Grotman Biltong. Gaste is ook welkom om ‘n piekniekmandjie en “cooler box” saam te bring. Die vertoning begin om 19:00. Weens die nasionale inperkingsregulasies a.g.v. die Covid19-pandemie, is daar beperkte sitplekke beskikbaar vir slegs 50 paartjies. Spring dus gou en bespreek jou kaartjies vir Mathys Roets se Intiem en Akoesties aanlyn by www.lefrawinkel.co.za, deur ‘n epos te stuur aan admin@lefra.com of deur Monica Booysen te skakel by 011 815-3000. Die Lefra Tuinkonserte word aangebied met die trotse ondersteuning van Grotman Biltong, RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Renegades Removals, Ambassador Execudrive en Savvy Holdings.

Mathys sê dat hy baie uitsien na die tuinkonsert. “Dis hoe ons deesdae moet konsert hou en ek moet se dis vir my heerlik om akoesties net met die ghitaar en my stem op te tree. Dit gee my weer die geleentheid om net op my talent te konsentreer. Hierdie tuinkonserte gee ons ook die geleentheid om persoonlik met ons gehore te meng en te kuier,” sê Mathys.

In tipiese Mathys Roets-styl is elke liedjie in Reën met diepte en warmte gevul. Wat hierdie vertoning so spesiaal maak is die samevloei van die digkuns en musikale vernuf. Mathys deel sy digterlike versamelstukke van die afgelope paar jare op intieme wyse met die gehoor. Mathys het oor die afgelope paar jaar ’n variasie van gedigte en musiek versamel. Hy voel nou, na nege jaar, dat die tyd ryp is om dit te deel. Hy is heeltemal bewus van die gevoel wat hy wil skep en en met hierdie vertoning kry hy dit perfek reg. Elke liedjie vul jou met nostalgie en laat jou terugdink aan spesiale oomblike uit ’n ander lewe. Dis asof liriek en melodie saamspan om jou te laat ontvlug na alles waarvan jy reeds vergeet het!

Die liedjie Waantoe nou, geskryf en getoonset deur Mathys self, het hom herinner aan die gedigte wat hy jare gelede van Nelius Boshoff ontvang het. Saam met Matthys Maree is die gedigte afgestof en Bertus se ballade, Stasie in die Skemer, Grassade en Katedraal en Prinses van Wallis gebore. Klaasvakie, die vyfde van hierdie gedigte, het Mathys opslag laat terugdink aan die kleintyd-wiegelied wat sy pa vir hom gesing het. Voor hy sy oë kon uitvee is sy pa en Nelius se woorde inmekaar geweef en het die wiegelied as inspirasie vir die melodie gedien. Hierdie lied lê Mathys veral na aan die hart en dit is duidelik, want mens is werklik geboei van die eerste noot af.

Mathys sing ook al vir jare Piet van Wyk de Vries se musiek. Een van die mooiste liedjies in die vertoning, Sprokie, het Piet spesiaal vir Matthys geskryf. Reën, die pragtige titelsnit is uit Carel Chapman se pen. En, natuurlik is geen Mathys Roets vertoning ooit volmaak sonder ’n Leonard Cohen-treffer nie. Cohen se laaste album (wat uitgebring is na sy dood) het ‘n lied, Thanks for the Dance, wat Matthys nog altyd na aan die hart gelê het. Juis hierom het hy en Matthys Maree dit verwerk tot ’n produk wat Cohen se talent en Mathys se gawe om Cohen woorde lewe te gee ten toon te stel.

Bespreek nou vir Mathys Roets se Intiem en Akoesties in Springs aanlyn by www.lefrawinkel.co.za, deur ‘n epos te stuur aan admin@lefra.com of deur Monica Booysen te skakel by 011 815 3000.

PRESIDENTS RANCH ECO ESTATE, PAUL KRUGER-WEG, SPRINGS
SATERDAG, 6 MAART 2021 | KUIER VANAF 18:00 | KONSERT VANAF 19:00
BESPREKINGS: WWW.LEFRAWINKEL.CO.ZA | ADMIN@LEFRA.COM | 011 815 3000
GROEPE VAN MEER AS 10: SKAKEL MONICA BOOYSEN BY 011 815 3000 OF E-POS ADMIN@LEFRA.COM


UITGEREIK DEUR:
Lefra Produksies

MEDIANAVRAE & ONDERHOUDE:
Charl Senekal by 061 616 6138 of admin@lefra.com

Mathys Roets
Mathys Roets